aktueel
deur SHANDA LUYT
As skei lelik raak
Valse aantygings van seksuele molestasie is ‘n vernietigende wapen tydens egskeiding
Sy babaseuntjie was maar slegs ses weke oud toe dinge in John McIntyre* se lewe lelik skeefgeloop het. Sy huwelik het misluk en sy vrou het vrylike toegang tot hul baba probeer verhinder. Toe hy dit probeer beveg het, het die beskuldiging gekom: Volgens haar het hy sy seuntjie seksueel gemolesteer.
Die gevolge van daardie valse aanklag was vir hom en sy kind enorm, vertel John. “‘n Beskermingsbevel is teen my uitgereik sonder enige ondersoek om vas te stel of dit waar of vals is. Ek kon drie jaar lank net onder uiters streng toesig my seun sien.”
Dit het beteken John moes drie jaar lank elke tweede naweek van Kaapstad na Johannesburg vlieg om sy seun te kon besoek – in die teenwoordigheid van ‘n toesighouer en sy eks wat skaars ‘n paar meter ver was sodat sy elke woord kon hoor wat hy sê.
Volgens John het die eerste sielkundige in die saak glad nie die beskuldigings ondersoek nie, maar dit net so as waar aanvaar. “Haar aanbevelings het hieruit gespruit. Ek moes toe vir nog ‘n jaar my seun onder toesig sien terwyl die situasie verder ondersoek is.”
John se storie het ‘n gelukkige einde: Uiteindelik is daar besef die aantygings was vals en vandag is sy seun voltyds in sy sorg.
Nie almal is so gelukkig soos John nie.
Pierre Opperman van Port Elizabeth se dogtertjie was drie jaar oud toe sy eks hom daarvan beskuldig het dat hy hul kind gemolesteer het. Dis nou 14 j later en al is die saak teen hom deur die hof uitgegooi, is daar ‘n beskermingsbevel teen hom uitgereik en het Pierre steeds geen toegang tot sy dogter nie.
“Ek kan nie beskryf hoe dit voel om aan die ontvangkant van so valse beskuldiging te staan nie. Dis onmenslik om van so iets aangekla te word. Dit voel onwerklik. Om van jou kind af weggehou te word, is nog erger. My vrou het geweet hoe erg ek oor my kind was en sy het dus geweet dis waar sy my die seerste kon maak.”
Pierre glo die beskuldigings was vir sy eks ‘n maklike manier om hom uit haar en haar dogter se lewe te hou ná sy ‘n nuwe verhouding aangeknoop het. “My kind is as ‘n pion gebruik om my seer te maak. Sy moes deur die hel van talle evaluasies gaan ...”
Ook vroue loop deur. Retha Coetzer vertel sy sukkel al die afgelope vyf jaar om toegang tot haar twee kinders van onderskeidelik sewe en nege te kry ná valse beskuldigings van onder meer seksuele molestasie.
“Sedertdien het ek my kinders nog net 145 uur gesien. Die meeste hiervan was onder toesig. Ons was al sewe keer hof toe en drie keer in die kriminele hof. In die hooggeregshof kom ek net mooi nêrens nie en die koste beloop al ver oor die R800 000.”
Retha vertel die saak teen haar in die kriminele hof is teruggetrek omdat daar geen bewyse vir die aantygings teen haar was nie, maar die vervreemding duur voort. “Die stelsel word misbruik en het ons telkens in die steek gelaat. Die hoë graad van ouervervreemding waaraan my kinders blootgestel word, is niks ander as kindermishandeling nie.”
Die magtigste wapen
Dit lyk of valse aantygings van seksuele molestasie in egskeidingsgedinge al meer algemeen voorkom, sê prof Anet Louw, medeprofessor aan die sielkundedepartement van die Universiteit van die Vrystaat.
“Vyftien jaar gelede was dit raar dat ouers so ver sou gaan om beskuldigings van seksuele molestasie te maak. Vandag is dit ‘n magtige wapen in egskeidingsgedinge.”
Valse beskuldigings is nie altyd kwaadwillig nie, beklemtoon sy. “Baie ouers besef nie hoe groot die impak van die egskeiding op hul kind is nie. As die kind byvoorbeeld ná ‘n vakansie van die pa af terugkom, is sy dalk ontsteld. Dit vat mos tyd om weer aan te pas. ‘n Mens sien ook somtyds dat ‘n kind meer masturbeer, wat selfvertroostende gedrag is. Die ouer sien daardie gedrag as bewys dat iets gebeur het, maar eintlik is dit normaal.
So ‘n ouer vra byvoorbeeld: ‘Waar het jy geslaap?’ ‘By Pappa.’ ‘Wie het jou gebad?’ ‘Pappa.’ ‘Het hy aan jou blommetjie gevat?’ ‘Ja.’
Dan gebruik die ouer hierdie terugvoering as bewys van molestasie.
“So ‘n ouer fabriseer nie die aanklag van seksuele molestasie nie, maar verstaan bloot net nie die gevolge van egskeiding op ‘n kind nie.
“Daar is egter ook ouers wat doelbewus kwaadwillig optree,” sê prof Anet. “In sulke gevalle is daar gewoonlik ernstige konflik tussen die ouers. Een ouer wil dalk nie hê die ander ouer moet by die kind betrokke wees nie. Dan is seksuele molestasie een van die aspekte wat hulle bysleep.”
Gary da Silva, nasionale mediabeampte van die groep Fathers 4 Justice, lê baie aanklagte van seksuele molestasie voor die deur van onetiese prokureurs wat hul kliënte aanmoedig om vals aantygings te maak om die pa weg te hou omdat hulle geld wil maak deur die hofproses uit te rek. Hy voel mediasie, eerder as ‘n hofgeding, is tydens ‘n egskeiding ‘n baie beter opsie vir ouers en hul kinders.
John beaam dit. Ironies genoeg is hy nie kwaad vir sy eks nie, maar vir die stelsel. “Dit het my R2 miljoen aan fooie vir sielkundiges en prokureurs gekos en vir my eks byna dieselfde. Dit het my kind vier jaar van sy lewe gekos. Iemand moes ingetree het en gesê het: Hierdie gesin het hulp nodig en dis in die kind se belang om mediasie te kry.”
Die hof reageer dadelik
Gesinsprokureur Lindi Wademan van Johannesburg sê sodra daar ‘n aantyging van seksuele molestasie is, word die kind onmiddellik vir ‘n volle sielkundige evaluering verwys.
“Ons moet dit ondersoek. Jy kan dit nie ignoreer nie, want dis ‘n ernstige aantyging.
“Gewoonlik sal die ouer wat die aantyging maak eerstens ‘n beskermingsbevel kry, sodat die kind beskerm word. Dan sal die persoon wat aangekla word op ‘n ondersoek aandring om sy onskuld te bewys.”
Sy sê terwyl die ondersoek aan die gang is, kan dié ouer toegang hê, maar dis gewoonlik slegs onder toesig. “Sodra die aantygings as vals bewys word, word volle toegang herstel.”
Ouer-kind-toegang sal van situasie tot situasie verskil, sê prof Anet. “Gewoonlik word die ouer en kind van mekaar weggehou tot die ondersoek afgehandel is. In ons regstelsel vat so ‘n saak dikwels baie lank en is hulle dus partykeer tot twee jaar van mekaar geskei. Dis hoekom ons ‘n herintegrasieproses het om hulle geleidelik weer aan mekaar bekend te stel.
“In ander gevalle sal die ouer sy kind onder toesig kan sien met ‘n maatskaplike werker of sielkundige wat deurentyd by is. Dis ‘n taamlik onnatuurlike opset.”
Die probleem, sê prof Anet, is dat seksuele molestasie dikwels vreeslik moeilik is om te bewys, wat beteken dat dit lank kan duur voor so ‘n ondersoek afgehandel is.
“In ‘n egskeidingsondersoek moet hierdie aantygings eers uitgeklaar word voor ‘n aanbeveling oor toesig van die kinders gemaak kan word ten opsigte van die nuwe kinderwet. Dis ‘n moeilike ondersoek om te doen.”
Die moeilikste deel is om vas te stel of die kind voorgesê is en of dit ‘n geldige aanklag is, sê prof Anet. “‘n Mens moet met die kind in gesprek tree. My nekhare rys as hier ‘n kind by my inkom en sy sê dadelik: ‘My pa het aan my blommetjie gevat en vir my lekkers gegee.’ So kind is dikwels voorgesê. As jy dieper delf, kan die kind glad nie so iets onthou nie en dan sê sy: ‘Mamma het gesê dit het gebeur.’”
Sielkundiges word dikwels geleer om nooit kinders se stories van seksuele molestasie in twyfel te trek nie, maar sielkundiges soos Gordon Blush and Karol Ross, wat ‘n studie oor SAID (Sexual Allegation in Divorce)-sindroom gemaak het, reken klagtes van seksuele molestasie tydens egskeiding moet ietwat anders benader word.
‘n Wanbalans
Een van die dilemmas van so situasie is dat die beskuldigde ter wille van die kind se beskerming tot ‘n mate as skuldig behandel word totdat sy onskuld bewys word.
Daarteenoor, sê Gary, is daar geen negatiewe gevolge vir iemand wat ‘n valse klag van seksuele misbruik lê nie, omdat dit moeilik is om te bewys dat dit kwaadwillig was.
Gary voel ouers en hul regsadviseurs wat hierdie metodes gebruik om die verhouding tussen ouer en kind te vernietig, is self aan ‘n vorm van kindermishandeling skuldig.
“Die kind word aan verskeie sielkundige onderhoude en evaluasies onderwerp. Kinders het vrugbare verbeeldings. Waar daar geen probleme nie en geen teken van seksuele misbruik was nie, begin hierdie kind skielik glo hy is gemolesteer. Ons voel hierdie mense moet self vir kindermishandeling aangekla word as hulle dit kwaadwillig doen.”
Vernietigende impak
Prof Anet sê vir die ouer wat valslik beskuldig word, is die situasie onuithoudbaar. “Ek het al groot mans gesien huil. Hulle voel magteloos. Baie ly aan angs en depressie. Boonop is die gemeenskap onmiddellik op hul agterpote as seksuele kwessies ter sprake is en dis moeilik vir die beskuldigde ouer om die teendeel te bewys, want mense glo die ma en kind sal nie jok nie.
Gary sê ook die gevolge van valse aantygings is vernietigend. “‘n Pa kan enigiets tot twee jaar baklei om sy goeie naam te herstel en tot vyf jaar vir beperkte of enige toegang tot die kinders – selfs al is daar geen saak teen hom nie.
“Ek weet van een pa wat reeds R1,8 miljoen gespandeer het om toegang tot sy kind te probeer kry. Hy sukkel reeds vir agt jaar.”
Gary sê die impak op die ouer-kind-verhouding wissel. Hy vertel in baie gevalle is die verhouding tussen die ouer en kind so erg benadeel dat die kind vir die ouer bang is bloot omdat hy deur die ander ouer gebreinspoel is.
“Die ma sê byvoorbeeld aanhoudend dat die pa slegte goed met hom gedoen het en dit is hoekom hy hom nie kan besoek nie. Met haar onbeperkte toegang kan sy die kind letterlik breinspoel totdat hy die pa vrees.”
Prof Anet sê egskeiding is klaar vir ‘n kind traumaties. As valse beskuldigings van seksuele molestasie deel daarvan vorm, is dit soveel erger.
“‘n Ouer wat die ander ouer valslik beskuldig, doen sy kind ‘n ontsaglike groot onreg aan. Seksuele molestasie is ‘n verskriklike aantyging, daarom is die regte vraagstelling belangrik. Jy moet die tegnieke verstaan, anders gaan jy suggesties by jou kind plant. Die gemaklikste is ope vrae. As jy onraad vermoed, vra: ‘Wat het gebeur? Het iets jou seergemaak?’ in plaas van ‘Het jou pa met jou gelol?’”
Sy sê dikwels word die kind se geheue tydens so ‘n saak besoedel. “Daar is soveel suggesties dat dit later vir die kind moeilik raak om te onderskei tussen wat werklik gebeur het en wat nie gebeur het nie.
“Sou die beskuldigde party later as onskuldig bewys word, is dit verskriklik moeilik om die verhouding tussen ouer en kind te herstel. Ek beveel aan dat hierdie kinders terapie moet kry om daardie skade ongedaan te probeer maak, want anders loop hulle met die gedagte dat hul pa hulle gemolesteer het, terwyl hy nie het nie.”
In ‘n egskeidingsituasie is dit belangrik dat jy nie jou kwessie met jou eks jou kinders se kwessie maak nie, beklemtoon prof Anet. “Volgens die kinderwet het albei ouers verantwoordelikhede en reg tot toegang tot die kind. Om dit met vals beskuldigings te probeer kortwiek, is nie in jou kind se beste belang nie.”
*Skuilname